top of page
Search

Bid

James 5:16

Therefore, confess your sins to one another, and pray for one another so that you may be healed. The effective prayer of a righteous man can accomplish much.


Wanneer dinge glad verloop op terrein is daar dae wat laaank kan uitrek, maar dit bly belangrik om dáár te wees. Dit is juis in daardie klein oomblikkie wat jy besluit om gou weg te glip dat iets gebeur wat verhoed kon word. So, ek het maar toesig gehou soveel ek kon.


Ek onthou een spesifieke dag wat dinge redelik glad verloop het en ek al om die huis geloop het om te kyk dat almal doen wat hulle moet. Ek begin toe sommer ‘n geselsie aanknoop met een van die verwers - vra waar hy vandaan kom, wat sy naam is en so aan. Vrolike ou, besig om ‘n liedjie te neurie. Ek vra toe ook sommer watter tale hy kan praat, siende dat hy nie van Suid-Afrika is nie? Hy glimlag en vertel trots dat hy sommer ‘n hele klomp tale baas is. Hy dink diep en kyk vêr van bo van die leer af in my oë en sê: “Yes Mam, you know I can speak many different languages and I can also speak in tongues! I’ve been praying for you and this house, while I am painting these walls…”


Ek kon net glimlag. Hier staan ek en bekommerd wees oor ‘n klomp goed en oor dit waarmee almal gelyk besig is, en die Here stuur ‘n verwer om saam te bid terwyl hy werk. Hoe ongelooflik. Al wat ek kon uitkry was: “Thank you so much. Please don’t stop praying. I need it.”


My man se Ouma Joey, is laasjaar oorlede op die ryp ouderdom van 94. Vir ‘n groot gedeelte van haar bejaarde lewe, het sy haar sig heeltemal verloor. Sy was ook so te sê doof en moes op almal om haar staat maak om te help met alledaagse dinge, wat ons as vanselfsprekend aanvaar. Aantrek, eet, loop, toilet toe gaan en eintlik enige normale funksie was ‘n uitdaging.


Ek onthou hoe ek en my man eenkeer saam in sy bakkie gery het en net eerlik gewonder het oor haar lewenskwaliteit en of sy voel dat haar lewe nog iets beteken? Sy kon niks meer doen, of hoor of sien nie. Dit het so hopeloos gelyk en toe tref dit my – sy kan nog iets doen! Sy kan BID. Sy kan nog ‘n reuse verskil maak in die wêreld! ‘n Groter verskil as al die mense wat geen gebrek het, maar nie die krag van gebed verstaan nie. Haar lewe hét nog sin en dit beteken dalk meer as wat ons dink.


Selfs in die donkerste van donkerste oomblikke, wanneer dit vir ons voel asof die lewe geen sin meer het nie, bly daar nog altyd die moontlikheid oor om te bid. Jesus was vir ons die ongelooflikste voorbeeld hierin. Sy laaste asem het Hy gebruik om te bid. Vir almal om Hom. Vir vergifnis vir die mense wat die vreeslikste dood vir Hom uitgedink het; Sy Ma en Sy broer; selfs vir die misdadigers langs Hom.


Na die donker week van verwoesting in ons land, voel ek magteloos in my vlees, maar ons stryd is nie teen vlees en bloed nie. Ek sal onthou dat ek nog altyd kan bid. Mag dit tot en met my laaste asem sin gee aan my lewe en dié lewens van ander mense om my, vir altyd verander.

Amen.



119 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page