top of page
Search

Oorlog?

Galatians 3:26

26 For you are all children of God through faith in Christ Jesus. 27 And all who have been united with Christ in baptism have put on Christ, like putting on new clothes. 28 There is no longer Jew or Gentile, slave or free, male and female. For you are all one in Christ Jesus. 29 And now that you belong to Christ, you are the true children of Abraham. You are his heirs, and God’s promise to Abraham belongs to you.


Wie sou nou kon dink dat ons oorlog sou sien uitbreek in die hedendaagse tyd? Ek staan verstom. En maak nie saak hoe ek probeer verstaan waar die konflik nou juis kon vandaan kom nie, dit maak net nie vir my sin nie! Wollerig en duister is al hoe ek die “feite” wat ek raak lees kan verduidelik. Stap daar regtig ooit ‘n wenner uit so ‘n stryd? Vir my is oorlog net sinoniem met verlies.


Maar ek wonder... ek wonder of hierdie ongewone, ondenkbare tyd nie dalk juis gebeur sodat die wêreld kan sien wie God is nie? Onverklaarbaar vir ons en weggesteek in Sy plan? Dalk is daar iets baie groter as wat ons ooit kan begryp aan die gang? Is Hy nie juis besig om in die harte van AL sy kinders te werk nie? Kies God ‘n kant? Is Hy liewer vir een nasie as ‘n ander? Vir een persoon as ‘n ander? Is dit reg van my om ‘n sondebok te wil skep in my gedagtes?


Miskien is dit soos die man wat blind gebore was. Almal om hom het geglo dat sy gebrek die gevolg was van sonde. Sy eie – (van geboorte af) of die van sy ouers. Daar moes ‘n oorsaak-en-gevolg en logiese verduideliking wees. Iemand moes die skuld dra. Dit is hoe ons redeneer. Ons wil ‘n sondebok hê en sin maak van ‘n situasie. Of dit nou feitlik reg is of nie...


Maar Jesus het dit alles kom verander. Daar is nie meer ‘n sondebok nodig nie, nee – Hy het in die plek van sonde kom staan, juis sodat daar genesing kon kom. Loodreg in teenstelling met dit wat die gemeenskap van daardie tyd geglo het.


My foon word deesdae oorstroom met getuienisse van mense wat saambid vir vrede in die tyd van oorlog. Nie net in een land nie...In alle lande. Ek sien foto’s van samekomste - mense wat sing en die Here aanroep in hulle dag van benoudheid.


Dit gee my hoendervleis.


Ons is mense - weerloos en kwesbaar.


Waar sal ons hulp vandaan kom? Ons hulp kom van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Wat getrou bly tot in ewigheid. Gister, vandag en vir altyd. Hy het nie witbroodjie kinders of kulture nie. Nee, Hy is lief vir al sy kinders.


Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie.


Mag ek dit onthou en ander se laste dra in hierdie tyd. Mag ek my hart beskerm en in Liefde geanker bly. Mag ek nie sondebokke skep nie. Mag ek ‘n vredemaker wees, soos Hy van my verwag en nie haat saai nie, maar vergifnis en onvoorwaardelike liefde. Mag Sy liefde seëvier.


Want ék het dit net so nodig, soos enige ander sondebok.

Amen.



102 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page