2 Corinthians 3:18 (TPT)
18 We can all draw close to him with the veil removed from our faces. And with no veil we all become like mirrors who brightly reflect the glory of the Lord Jesus.[m] We are being transfigured[n] into his very image as we move from one brighter level of glory to another.[o] And this glorious transfiguration comes from the Lord, who is the Spirit.[p]
Aan die begin van die jaar vra ek altyd vir die Here om vir my ‘n sinnetjie of ‘n woord te gee wat as ‘n slagspreuk of ‘n tema kan dien… Hierdie jaar was daar twee woorde of sinne wat by my opgekom het. Heel gepas vir die jaar 2-2. Die eerste een was: “ Wys my jou hande” en die tweede een “Saai”
Ek weet nog nie wat dié woorde vir my inhou nie, maar ek knoop dit solank vas aan my hart en ek is nuuskierig om te sien wat dit gaan beteken in die jaar wat reeds met 'n vaart begin het.
Hierdie eerste week voel of dit al ‘n maand lank is en gister was so ‘n dol dag. Een van daardie: “ O, gaats dis al 19:30 en ek het nog nie eers gedink aan aandete nie ” dae. Ek ry af teen die bult om gou iets te koop om bymekaar te slaan en alhoewel ek aanvanklik by die Engen-Woollies wou stop, (baie gerieflik vir onbeplande aandetes) voel ek in my hart om eerder na die Spar in ons straat toe te gaan. Ek maak dit net-net. Dis tien voor agt en die kassiere het alreeds die kontant gebêre. Teësinnig sluit hulle weer ‘n kasregister oop (ek het net kontant) en ek is maar net te dankbaar dat ek nie nou verder hoef te soek vir aandete nie…
Ek klim in my motor en sit die pakkie langs my op die passasier sitplek neer. Dankie tog vir die Spar. Ek is gereed om weg te trek, maar toe ek opkyk, staan hy langs my venster. Ek herken hom dadelik. Sy oë is pleitend en hy beduie na sy honger maag. De ja vu, maar hierdie keer skrik ek nie.
Jy sien, hierdie spesifieke man het my al laat skrik.
Toe die kinders nog in die Laerskool was – ‘n hele tyd gelede, het ek hom gereeld sien rondloop in die Dorp. Stellenbosch het baie hawelose mense wat bedel en gewoonlik probeer ek help as ek kan, maar vir een of ander rede het hierdie ou net my nek hare laat rys. Selfs wanneer ek hom net op ‘n afstand gesien het. Hy was anders. Altyd haastig asof iets hom jaag. Hy het kliphard baklei met dinge wat net hy kon sien en sy oë was wild. Ek het stilletjies gehoop dat ek maar altyd net op ‘n afstand vir hom kon dophou en nooit met hom gekonfronteer sou word nie… Hier is nie ‘n varkplaas naby om alles wat in hom is uit te jaag nie, het ek (tot my skaamte) gedink…
Maar Stellenbosch is klein en as jy iemand gereeld sien, is dit amper onvermydelik om een of ander tyd in daardie persoon vas te loop.
Ek het niksvermoedend in my motor gesit langs die rivier en vir die kinders gewag om by die skool hekkie uit te kom toe hy skielik asof uit die niet uit, by my motor venster inloer en met sy wilde oë en skewe tande half snorkend vra vir iets om te eet. Ek dink ek het letterlik gewip soos ek skrik en ek dink hy moes ook, (vir my reaksie) want hy het mompelend omgedraai en na die volgende kar toe gestrompel.
Ek het diep asemgehaal en toe my hartklop weer bietjie normaliseer, was ek vies!
Hoekom skrik ek so? Dit is tog net ‘n mens…
By die huis gekom, het ek myself in my kamer gaan toemaak en op my bed gaan sit. “Here,” het ek gebid, “ek wil hierdie man sien, soos U hom sien. Wys my hoe hy sal lyk in U teenwoordigheid. Ek wil nie weer vir hom skrik nie!” En die Here was getrou. Skielik was daar ‘n vrede in my kamer en in my gemoed. Terwyl ek my oë toehou kon ek die man sien staan onder iets wat gelyk het soos goue reën of blinkers wat op hom val. Hy was rustig en skoon en het ‘n tevrede glimlag op sy gesig gehad. Hy het opgekyk. Weg was sy vuil bruin klere en hy het ‘n mooi blou sweetpak top aangehad… Ek het geglimlag. “Mag hy hierdie man word, Here!” het ek gebid.
Intussen het ek hom weer in die dorp sien rondloop – en asof die Here ‘n sin vir humor het, het hy nog elke keer na daardie insident, iets blou aangehad. Hy was nogsteeds haweloos en hy het nogsteeds gebedel, maar hy was vir my rustiger. Ek weet nie wat in sy lewe gebeur het nie, maar ek het geweet dat hy die potensiaal het om daardie man met die vredevolle glimlag te wees wat ek gesien het. Hy het my nie meer laat skrik nie.
So, gisteraand toe hy weer langs my staan, nogsteeds brand maer en desperaat, kon ek rustig vir hom glimlag en ‘n noot kleingeld uit my beursie uithaal. “Saai” het my hart onthou.
Met sy vuil hande en lang naels het hy die noot by my gevat en sy met sy skewe tande in ‘n groot glimlag, het hy oorgeborrel. Ek dink nie hy kan regtig Afrikaans praat nie, maar hy het hard probeer. Op ‘n baie gebroke manier het hy vir my verduidelik dat hy gebid het vir iemand om vanaand hier langs te kom wat vir hom iets kon gee, want blykbaar is daar nie baie mense, wat hierdie tyd van die aand, by die Spar stop nie!
Die res van sy gebroke gebabbel kon ek nie regtig verstaan nie en toe ek probeer verduidelik dat die noot in sy hande, al was wat ek het om te gee was sy woorde: “Nee M’am, ek wil net dankie sê” Sjoe. Skaamte. "Mooi aand vir jou." is al wat ek kon uitkry. Wat in kontras teenoor daardie eerste ontmoeting? Amper 'n volle sirkel..
Ek glo gebed kan wonderwerke laat gebeur en ek dink baie keer is die wonderwerk dit wat in ons gebeur. Ek weet nie of die Here hierdie man verander het, en of Hy eintlik net vir my kom verander het nie, maar ek weet daar is krag in gebed.
Mag Hy aanhou om my te verander.
Mag Hy vir my nuwe oë gee om na hierdie nuwe jaar te kyk. Sy oë - waar ons in die rus van Sy teenwoordigheid kan glimlag en getransformeer kan word om meer en meer soos Hy te lyk.
Dit maak nie saak hoe jy (of jou situasie) vir die wêreld lyk nie.
Hy sien jou raak en dit wat jy kan wees.
Mag ek ook so kyk.
Amen.
Comments