Psalm 94:19 (TPT) Whenever my busy thoughts were out of control, the soothing comfort of your presence calmed me down and overwhelmed me with delight.
Ons huis is deesdae baie stil. En alhoewel my eie roetine nie regtig baie verander het nie, is daar na die Matriek eindeksamen maar min beweging hier. Geen agtergrond geraas van die televisie wat aan is of kinders wat elke nou en dan in my studeer kamer inloer om hallo of koebaai te sê nie. Maats wat net vinnig ‘n drukkie kom bedel of uit die koshuis ontsnap nie. Of musiek wat oorverdowend uit die stort weergalm nie. Ons huis, wat stap afstand van die hoërskole af is, se drumpel word die laaste maand maar min deurgetrap.
Dit is stil.
En ek mis dit. Die baie rondry, skielike middag etes vir die hele spulletjie en geselsies en lag op ons stoep in die middae… Die afluister gesprekke as ek ‘n motor propvol kinders wedstryde toe neem of Dorp toe.
Twintig jaar se roetine en fokus op almal anders se behoeftes en skedules is diep ingeprent in my wese.
Ons het ‘n leë nessie. En ek moet myself keer om nie te veel te vra waar my kinders nou is of wat hulle doen en of hulle aandete kom eet nie...
So kom ‘n era van afhanklikheid tot ‘n einde en ‘n nuwe era van onafhanklikheid breek aan. Opwindend en terselfdertyd moeilik. So is die lewe .
Vreugde en hartseer is iets wat ek meeste van die tyd gelyk moet vashou. Soos gister toe ek by ‘n vrolike kinderpartytjie was en van die gaste vroeg moes totsiens sê om iemand (wat net so na aan hulle soos die verjaarsdag seuntjie is), by ‘n begrafnis te gaan groet.
Ek weet dit. En ek besef ek moet myself toelaat om al die emosies gelyk toe te laat. Dit is nie nét sleg nie. Ek sien ook uit na hierdie nuwe hoofstuk en ek is nuuskierig om te sien hoe die “volwasse-storie” van my kinders ontvou. Ek wonder oor die avonture wat hulle nog gaan meemaak? Die plekke en mense wat hulle gaan leer ken? Hoe hulle karakters deur die jare gevorm gaan word?
Ek is ook dankbaar vir die tydjie wat hulle elke dag hier by my kon wakker word. Die ure en ure en ure wat ons in die motor deurgebring het. Skooltoe en terug. Buitemuurse aktiwiteite, partytjies, afsprake en uitstappies, inkopies...
Dit was ‘n voorreg. Party dae onmoontlik moeilik en uitputtend en ander dae so vol vreugde dat ek dit moeilik in woorde kan omsit. Die lewe met my kinders in my huis was intens en vol kontras. ‘n Sensoriese en emosionele wipplank of eerder ‘n weghol rollercoaster, waaroor ek (as ek eerlik moet wees), maar min beheer gehad het.
Ek gun hulle die vryheid om te ontdek wie hulle is. Die genade om my te vergewe vir die baie foute wat ek seer sekerlik in my ouerskap gemaak het en die moed en durf om die geleenthede wat oor hulle pad kom, met al twee arms aan te gryp en die lewe ten volle te geniet en te ervaar. Die lief en die leed.
Ek wonder ook oor dit wat die toekoms nou vir my inhou? Die helfte (hoop ek) van my lewe lê nog voor. En al is my kinders nie fisies meer baie hier nie, is hulle nog steeds ‘n groot deel van my lewe. Net op ‘n ander, nuwe manier.
Ek het hulle van die begin af aan die Here toegewy. En baie kere daarna...weer en weer. Ek weet hulle is op die ou end Syne. En Hy het hulle liewer as wat ek ooit kan dink. Dit gee my vrede. Hy ken hulle. Net soos Hy my ook ken. En al Sy beloftes, is ook waar oor hulle. Sonder Hom en daardie vrede, weet ek nie hoe ek hierdie oorgang sou hanteer het nie? Wat ‘n voorreg om Sy kind te wees.
In die stilte van my huis, is Hy by my en ook by hulle.
Dankie tog. Amen.
Comments