top of page
Search

Dinge in Drieë

Isaiah 46: 10 Declaring the end and the result from the beginning, And from ancient times the things which have not [yet] been done, Saying, ‘My purpose will be established, And I will do all that pleases Me and fulfills My purpose,’


Dit moes ‘n baie koddige prentjie gewees het toe ek druip nat om die hoek van die huis gestap kom, triomfantlik met my tuinslang in die hand, modder spatsels oor my hele lyf, bewerig en ook ‘n bietjie vies.  


Maar kom ek begin by die begin. Dinge gebeur mos maar in drieë. Nie dat ek bygelowig is nie, dit voel maar seker net vir my of ek meer beheer het oor die onvoorspelbaarheid van die lewe wanneer ek dit kan verklaar of definieer of myself kan paai met ‘n sinnetjie.


Dat die lewe onvoorspelbaar is, is ‘n feit. En dat dit ‘n totale illusie is dat ek daaroor beheer het – ook ‘n feit.


Insident 1. Ek laai oudergewoonte my dogter na haar klas op by die universiteit en maak gou ‘n draai by die winkel voor ons huis toe ry. Net mooi in spitsverkeer. Dit is ‘n blye dag! Sy het vroeër die oggend haar bestuurslisensie gekry en ek en sy gesels lekker oor al die vryheid wat dit nou inhou en die knorrige toetsbeampte wat haar in spanning laat wag het na haar toets sonder om vir haar te sê dat sy geslaag het. Ek probeer soveel moontlik oogkontak maak terwyl die verkeer basies stilstaan. Baie stadig begin ons weer beweeg en net toe die verkeer lekker vloei, stop die bakkie voor my dood. Ek rem en luister verder, mis die agterkant net-net, kyk weg en sien nie hoe die verkeer weer, hierdie keer baie skieliker,  stop nie. Ek spring op die rem en trap so hard as wat ek kan, maar dit is te laat en ek ry in die bakkie voor my se sleepstang vas. Nie baie hard nie, ons het nie baie vinding beweeg nie, maar net genoeg om my hele rooster stukkend te breek en die enjinkap te buig. Die bakkie makeer niks. Ek kon dit nie glo nie. En wou ook nie. So baie skade, met so ‘n ligte stamp? Is alles dan deesdae plastiek en weggooi baar? Dankie tog ék het bestuur...en nie my dogter nie.  Onnodige admin is nou nodig. Nommers uitruil, versekering bel, polisie kantoor toe gaan. Onderbrekings en onvoorspelbaarheid – alles buite my beheer.


Insident 2. Na die Desember vakansie het ek myself belowe dat ek sal oefen hierdie jaar. En soos my dogter sê nie ‘n “New year’s resolution nie, maar ‘n Revolution” Sover hou ek nog daarby en probeer ek meeste weeksdae vroeg in die oggend pilates doen. Die enigste probleem is dat ek nog dik deur die mis is na een koppie koffie en ek amper in auto-pilot na die instruktrise luister terwyl ek my lyf probeer soepel hou. So, besluit ek om my bril vir een van die strek oefeninge af te haal, sodat ek my kop laer kan laat sak, maar vergeet toe skoon dat dit langs my lê. Met die volgende buiging spat my bril aan skerwe. “Admin”. Dit Is die eerste gedagte wat deur my kop gaan...onnodig, buite my beheer.


En dan - insident 3. Een Donderdag oggend klim ek uit die stort en hoor hoe die water aanhou loop. Eers vermoed ek niks nie... iemand anders het seker in ‘n ander badkamer, besluit om na my te stort? Maar toe die buurvrou laat weet dat daar ‘n konstante stroom water langs ons huis af loop, het my moed in my skoene gesak.


Ek loop om die huis om te gaan inspekteer my vermoede word bevestig. Die geyser het gebars. Die water stroom uit en ek sal definitief die loodgieter en die verskering moet laat weet en heel waarskynlik sonder warm water moet klaar kom vir die res van die dag. Heel doenbaar dink ek – ek het klaar gestort en hopelik teen môre oggend is alles weer reg. Wat ek wel nie in berekening gehou het nie, is die REUSAGTIGE perdebynes wat langs die geyser soos ‘n versameling van vinkneste aanmekaar geplak is deur duisende indringer “yellow jackets”...


Ek het begin met die admin – die verskering laat weet en later daardie oggend het die eerste span loodgieters opgedaag om inspeksie te hou en die skade te bereken. Ek het vir hulle gewys waar die geyser sit en alhoewel hulle bietjie skrikkerig was vir die bye, het hulle gaan kyk en verslag gelewer. Die span wat die geyser sou vervang, sou later die dag kom om dit te doen.


Laat middag het hierdie span opgedaag, maar dié manne was glad nie so braaf nie. Hulle het net geloer op ‘n afstand en wou glad nie eens naby die geyser kom nie. Ek het gesmeek en verduidelik dat die vorige span heel veilig kon kyk wat fout was, maar hulle wou niks weet nie en ek was nie lus vir ‘n koue stort nie. So,  ek moes ‘n besluit neem: Dit was óf die geyser óf die bye...


Uit desperaatheid bel ek toe my man om te vra :”Wat nou?  Die manne wil nie die geyser afhaal tensy ons nie ontslae raak van die bye nie...” En sy raad? Spuit solank die nes af met die tuinslang, hy kom so gou hy kan...

So...


Met al my moed en frustrasie bymekaar geskraap,  gryp ek toe die tuinslang en loop vasberade om die huis na die stegie waar ‘n mens toegang kan kry tot by die Geyser. (Ons kom nie baie hier nie, en daar is ‘n laag herfsblare en ongesnoeide struike waardeur ek moet vleg om uiteindelik op spuit afstand van die nes te kom.) Ek neem my posisie in agter ‘n struik, skrik myself amper boeglam vir ‘n rot wat êrens uit die blare te voorskyn kom en skree oor die tuinmuurtjie vir ons huishulp om die tuinslang op volle sterkte oop te draai terwyl ek bewerig mik na die nes, hoog bo teen die muur en ek begin spuit...


Absolute Chaos!


Verdedigende bye stroom uit die vernietigde klei nes in alle rigtings. (Gelukkig vlieg die meeste van hulle boontoe). Dié wat te nat raak, val op die grond. En dan is daar die veg soldate wat reguit op my afpyl soos in ‘n stadige aksie fliek toneel... Ek spuit die na die nes en waai elke paar sekondes die tuinslang soos ‘n wafferse cowboy oor my kop om ‘n water gordyn om myself te vorm, terwyl ek in my gedagtes bid en skel... en begin twyfel of ‘n warm stort regtig hierdie moeite werd is?


Na wat soos ‘n ewigheid voel, kyk ek bo-oor my sopnat bril na die muur en dit lyk uiteindelik asof die hele nes af is. So vinnig as wat ek kan, al waaiend en spuitend loop ek om die huis, reguit na die lafhartige span loodgieters toe met ‘n vasberadenheid wat hul gedempte glimlagte van die nat-hoendertjie-toneel voor hulle, vinnig afvee.


“Die bye is weg.” Is al wat ek myself toe laat om te sê, want dit is definitief nie al wat in my kop aangegaan het nie...


Trots op my brawe poging om die bye (en die loodgieters) uit te oorlê, assesseer ek die skade. Darem net 3 steekplekke wat ek kan voel... adrenalien wat nog sterk deur my are pomp. Ek is net op pad na my kamer toe om droog aan te trek – toe ek ‘n sagte klop teen die skuifdeur van ons stoep hoor.


“Mevrou dit is nou tien keer erger. Ons kan nie so werk nie. Die bye is nou eers kwaad... “ Ek dog ek kom iets oor en stap ergerlik verby die boodskapper na sy baas toe. Net om presies dieselfde te hoor. Hulle gaan nie die geyser nou kan vervang nie. Ons kan hulle laat weet wanneer ons van alles ontslae geraak het en dan sal hulle weer kom.

Nodeloos om te sê het my moed tot diep in my modderige plakkies weggesak. Ek was nie lus vir koud stort nie, maar daar was nou geen ander opsie nie. Die werksdag was reeds verby en daar was geen manier wat ek hulle kon ompraat om te bly nie. Onvoorspelbare onnodige onderbreking.


Drie pogings later is ons water uiteindelik die Maandag oggend weer warm, met ‘n nuwe geyser en ‘n totale uitwissing van die grootste nes perdebye (ek is vas oortuig) in die geskiedenis van Stellenbosch op die boeke.


Net om my weereens te herinner dat die lewe onvoorspelbaar is. Dit help nie om dit te probeer beheer nie. Nes jy dink jy het ‘n greep daarop, gebeur daar iets in drieë...


Ek laat my lewe eerder oor aan die Een wat die begin van die einde weet. Die drie-Eenheid.

Hy wat was en wat Is en wat altyd dieselfde bly.

Sela.






 

 
 
 

Comments


Subscribe Form

Thanks for submitting!

0729977023

©2021 by Beloved ♥ Geliefd. Proudly created with Wix.com

bottom of page